AVS Verre Noord
AVS Verre Noord neem in 1992 aan die eerste Springbokweek te Lekkerrus deel. Bennie Genis, huidige uniepresident van Verre Noord, vertel: “Die oortuiging van ouers en die verkoop van ‘n onbekende konsep was op sigself ‘n uitdaging, maar so ook die administrasie en logistiek. Ekself en Johan Pretorius vorm die bestuur en afrigtingspan. Die week skop af met groot afwagting en opgewondenheid. Ons wen ons eerste twee wedstryde en speel in die finaal teen Vaaldriehoek. Die wedstryd eindig gelykop, en ons deel die trofee.”
Willem Barnard was president van Verre Noord tot in 1998. Daarna neem Tienie van Staden die leisels by hom oor. In 2005 is Johan van Heerden verkies tot president van die unie. Hy is in 2007 deur Johann Bierman opgevolg. Sedert 2015 is Bennie Genis die president van Verre Noord.
Verre Noord het al 10 keer die Bokkieweek met groot sukses aangebied.
Tydens Bokkieweek 1998 te Kleinfontein is dogtershokkie tot die toernooi bygevoeg en Verre Noord lig die trofee. Al is ons ‘n plattelandse unie, kon Verre Noord se hokkiespanne sedertdien nog altyd kers vashou by die groter unies. Ook wat die ander sportsoorte betref, staan ons nie terug nie.
Verre Noord neem ook jaarliks aan die AVS Somerweek deel en was vanaf 2015 tot 2019 elke jaar onder die top 5 unies op die algehele Somerweekranglys.
Goddank vir keuses en geleenthede, vir manne soos oom Daan Nolte, vir sy liefde vir sy volk en die se kinders.
Onthou altyd: “Ons drome moet groter wees as ons herinneringe!”

Bennie Genis
President Verre Noord
Beskermheer van Bokkieweek