Skip to main content

Bokkieweek

ONTSTAANSGESKIEDENIS

STIGTING

In 1986 stap wyle oom Daan Nolte, Adjunkpresident van die Suid-Afrikaanse Rugbyraad, en wyle Boetie Malan, mede-lid van die Uitvoerende Bestuur van die Suid-Afrikaanse Rugbyraad, uit die Hoofbestuur van die Raad, omdat hulle nie saamgestem het dat gemengde rugbydeelname afgedwing moet word nie.

Oom Daan, die vader van AVS, het hom beywer vir die skep van sportgeleenthede vir die Afrikanerjeug. “Daar gaan ‘n tyd kom dat my volk se kinders nie meer sportgeleenthede gaan hê nie.” was oom Daan se woorde. Danksy hierdie vérgesig van oom Daan, wat vandag op baie vlakke vir die Afrikanerjeug ‘n werklikheid is, is baie voorbereidingswerk gedoen in aanloop tot die aanbied van die eerste Springbokweek in 1992.

Die toernooi het te Lekkerrus buite Naboomspruit plaasgevind, op ‘n rugbyveld met populierbome as pale. Sewe O/13 rugbyspanne het aan die toernooi deelgeneem. Oud-Springbok Moaner van Heerden het as gasspreker by die geleentheid opgetree.

Die finaal van die Springbokweek van 1992 het op Hoërskool Hans Strijdom se velde plaasgevind, as voorwedstryd vir die Hoërskool Cravenweekspanne van Oos-Transvaal vs Verre Noord. Verre Noord en Vaaldriehoek het deurgedring na die Springbokweek se finaal en deel die trofee ná ‘n gelykop uitslag.

ONTWIKKELING

Sedertdien het die toernooi elke jaar plaasgevind, met ouderdomsgroepe wat uitgebrei is, asook netbal en hokkie wat later as sportsoorte bygevoeg is. Die Springbokweek het stelselmatig in die volksmond as Bokkieweek begin bekend staan. In 2001 is die naam van die toernooi amptelik na Bokkieweek verander.

In 2001 het AVS begin met die Somerweek in die September-/Oktobervakansie. Tans word Krieket, 7’s Rugby, Snelbal, Gholf en Woemahokkie by hierdie toernooi aangebied. In 2016 het AVS vir die eerste keer die ná-skoolse vlak betree met die aanbied van die O/21 Bokkietoernooi. Hierdie toernooi staan tans bekend as die O/23 Bokkietoernooi, waar Netbal, Rugby en Woemahokkie op O/23 vlak aangebied word.

Vanaf ‘n enkele toernooi met slegs sewe O/13 rugbyspannetjies, het AVS gegroei tot ‘n organisasie wat tans jaarliks drie toernooie aanbied waaraan in totaal 5 000 Afrikanerjongmense en -beamptes elke jaar deelneem.

Klein begin, groot gewin!