AVS Griekwas
AVS Griekwas is in 1995 deur ds. Peter Stans gestig. Tans is hy die langsdiendende uniepresident by AVS, met reeds 27 jare diens in 2021.
In 1995 neem Griekwas met vier spanne aan die Bokkieweek te Klerksdorp deel: O/13 en O/19 rugby, asook O/13 en O/19 netbal. Ds. Stans en twee afrigters vergesel die spanne. Sedertdien neem Griekwas elke jaar aan die Bokkieweek deel.
Griekwas se gebied strek oor ‘n afstand van ongeveer 900km van oos na wes en 700km van noord na suid. As gevolg van die ver afstande wat die spelers moet reis, is dit nie haalbaar om vooraf te oefen nie. Daarom hou ons jaarliks ‘n oefenkamp net voor die toernooi. Hierdie oefenkampe dra in ‘n groot mate by tot die besondere gees wat daar onder die Griekwaspanne heers. Meer as die helfte van die span se ouers is ook jaarliks as ondersteuners by die toernooi.
Ons bure, AVS Stellaland, bied Bokkieweek 2000 te Koster aan. Slaapplek was skaars en ‘n ou perdestal, wat natuurlik geen plafonne gehad het nie, was die verblyf vir Griekwas se seuns. Dit het ons taai jongmanne van die verre weste egter nie afgeskrik nie.
Deur die jare het Griekwas se rugbyspelers die voorreg gehad om deur besondere afrigters gebrei te word. Oud-Springbokslot Johan de Bruyn rig in 1995 en 1996 ons O/19 span af. Wyle André van Wyk, oud-Griekwa Curriebeker kaptein en die beste Griekwa voorspeler van alle tye, het vir baie jare AVS Griekwas se O/19 rugbyspan afgerig. André se besielende afrigting het ten gevolg dat Griekwas in 2002 en 2003 die toernooi wen.
Onder die bekwame leiding van Hennie Fourie, doen Griekwas se redenaarspan van 2001 baanbrekerswerk deur die eerste unie te word wat aan hierdie nuwe afdeling van die Bokkieweek deelneem. Willem Fourie word in daardie jaar AVS se eerste Redenaarsbokkie. Gedurende die 17 jaar wat redenaars by Bokkieweek aangebied is, het Griekwas ses keer ‘n Redenaarsbokkie opgelewer. Griekwas was ook verskeie kere die Beste Redenaarspan en Vasvraebeker wenners van die toernooi.
Griekwas het deur die jare verskeie AVS Nasionale spelers opgelewer, waaronder ‘n AVS Rugbybokkiekaptein.
Donnie Reitz, vir lank Griekwas se O/16 rugbyafrigter, het vir ‘n aantal jare as AVS se Regsverteenwoordiger gedien. Hy is in 2014 verkies tot president van AVS Nasionaal en het vir vyf jaar hierdie amp beklee. Verder het ons unie ook twee sportpresidente en ‘n AVS Hoof Uitvoerende Beampte opgelewer.
Sedert die aanbied van die eerste O/21 Bokkietoernooi in 2016, is Griekwas ook hier elke jaar ‘n krag om mee rekening te hou.
Griekwas neem jaarliks aan AVS se Somerweek deel, waar ons in al die sportsoorte gedugte teenstanders is. Na afloop van Somerweek 2018 het Griekwas die algehele eerste posisie op die Somerweekranglys van unies beklee en in 2019 was ons tweede op die ranglys.
Mag die woorde van die Griekwalied in die jare wat kom, steeds weergalm:
“Griekwas wil ons wees,
met ‘n goeie span en ‘n goeie gees,
dis ons soort mense:
Griekwas – ek en jy!”

Ds. Peter Stans
President Griekwas