AVS Oos-Transvaal
AVS Oos-Transvaal het in 1992 ontstaan. Saam met ses ander unies se O/13 rugbyspanne neem ons daardie jaar aan die Springbokweek te Lekkerrus deel.
In 1993 word O/19 rugby tot die toernooi bygevoeg en neem Oos-Transvaal ook in hierdie ouderdomsgroep deel. Die spanne reis na Rustenburg in tannie Ina Nolte se Kombi en Colin van Rooyen se Bantam bakkie. Fondse was maar skraps, en ons truie vir die toernooi is by Laerskool Mooinooi in Kempton Park geleen. Alles en almal wat moontlik kon help, moes ingespan word. Ons O/13 rugbyspan word afgerig deur Laetitia van Rooyen, met tannie Ina Nolte as spanbestuurder. Hierdie dames kén hul rugby en, veral in ag geneem dat die seuns mekaar eers in die Kombi leer ken het, vaar die span besonder goed.
Die spel was hard, maar tyd vir pret het nooit ontbreek nie. Die spanne het in ‘n koshuis gebly waar die seuns gedurende die nag ‘n blikkie in die hande gekry het en dit vol klippies gemaak het. Die blikkie is by Vrystaat, wat baie ernstig oor die toernooi was, in die gang af gegooi, en die Oos-Transvaalse seuns het laat spaander terug kamer toe, met ds. Dries Klopper kort op hul hakke.
In 1996 neem ons eerste O/13 netbalspan aan die Bokkieweek te Nylstroom deel. In die daaropvolgende jare is ander ouderdomsgroepe tot Oos-Transvaal se unie bygevoeg, asook dogtershokkie- en seunshokkiespanne. Ons neem al ‘n groot aantal jare met ‘n volledige unie aan die Bokkieweek deel en neem ‘n span in elke ouderdomsgroep van elke sportsoort na die toernooi.
In 2009 ontvang Oos-Transvaal die gesogte Daan Nolte Verdienstelikheidstrofee. Vanaf 2009 tot 2017 het Oos-Transvaal elke jaar ‘n redenaarspan na die Bokkieweek geneem, en in hierdie nege jare sewe keer die trofee vir Beste Redenaarspan ingepalm. Ook op die sportveld is ons gedugte teenstanders en het Oos-Transvaal reeds in al die Bokkieweek-sportsoorte verskeie trofees ingepalm.
Oos-Transvaal neem ook jaarliks tydens AVS se Somerweek aan krieket, 7’s rugby en snelbal deel.
Persone wat as uniepresidente van Oos-Transvaal diens gedoen het, is Collin van Rooyen (1992 tot 2011), Jan van Vuuren (2012 tot 2019) en Pieter van der Merwe (sedert 2019).
Ons sien uit na wat die toekoms mag oplewer vir AVS en AVS Oos-Transvaal.

Pieter van der Merwe
President Oos-Transvaal