Skip to main content

Bokkieweek

AVS Vaaldriehoek

In 1992 word AVS Vaaldriehoek onder leiding van ds. Gert van Heerden gestig.

Vanaf sy ontstaan is Vaaldriehoek ‘n unie om mee rekening te hou. Tydens die eerste Bokkieweek in 1992 te Lekkerrus en Libertas, vorder Vaaldriehoek se O/13 rugbymanne tot in die eindstryd wat op die velde van Hoërskool Hans Strijdom plaasgevind het. Die jong manne van die Vaal veg ‘n verbete stryd teen Verre Noord en met die blaas van die eindfluitjie is die telling gelykop. So deel Vaaldriehoek en Verre Noord die eerste Bokkieweek-trofee. En dit was maar net die begin van hierdie ongelooflike unie.

In 2005 gee ds. Gert van Heerden die leisels aan Pierre Scharneck oor. Hy lei Vaaldriehoek as uniepresident tot 2010 en word in 2011 deur David Mei opgevolg. David Mey word in Januarie 2019 as AVS President verkies. Sedert 2019 word Vaaldriehoek deur uniepresident Elsa van der Walt gelei. Elsa beklee ook die amp van AVS Gholfkoördineerder.

Vaaldriehoek is ‘n diverse unie wat reeds in al die sportsoorte wat by die Bokkieweek aangebied word, trofeë verower het. Die unie het ook in 2004 en 2015 die Daan Nolte Verdienstelikheidstrofee verower. Vaaldriehoek het in 2008 vier rugbyspanne op die finale dag op die A-veld gehad.

In die tydperk wat redenaarskompetisies en vasvrae by Bokkieweek aangebied is, het Vaaldriehoek ook op hierdie gebied hul staal gewys. Vaaldriehoek wen die vasvraebeker vier keer, is een maal die redenaarsunie van die jaar en lewer ook ‘n Redenaarsbokkie op.

By die Somerweek is Vaaldriehoek ook ‘n gedugte teenstander en eindig in 2019 algeheel eerste as unie. Die Somerweek is verskeie kere suksesvol deur Vaaldriehoek aangebied. Vaaldriehoek het ook as gasheerunie van Somerweek 2018 opgetree, waar gholf die eerste keer as sportsoort deur AVS aangebied is.

Bestuurslede van Vaaldriehoek wat op die Hoofbestuur van AVS dien of gedien het, sluit onder andere in: David Mey (AVS President), Belinda Mey (President Netbal), JP van der Walt (President Seunshokkie), Henk Calitz (President Seunshokkie), Oelie Oelofse (President Rugby) en Elsa van der Walt (Koördineerder Gholf).

Verskeie AVS Bokkiespelers en AVS Junior Nasionale Span spelers is oor die jare vanuit Vaaldriehoek verkies. Die beamptes van die Vaal is ook verskeie kere verkies as afrigters, spanbestuurders en skeidsregters van AVS Nasionale Spanne.

Vaaldriehoek is voorwaar ‘n unie om mee rekening te hou.

Elsa van der Walt

President Vaaldriehoek