Skip to main content

Bokkieweek

AVS Hoëveld

AVS Hoëveld is in 1998 gestig. Met slegs elf O/19 hokkiedogters, sonder enige reserwes, het Hoëveld in 1998 en 1999 aan die Bokkieweek deelgeneem.

As enigste AVS unie wat met slegs hokkie as sportsoort by Bokkieweek aangesluit het, is Hoëveld dankbaar vir die groei wat ons oor die jare beleef het. In 2000 neem ons met 96 spelers aan die toernooi te Koster deel.

Die eerste AVS Somerweek is in 2001 te Ermelo aangebied, waar Hoëveld as gasheer-unie opgetree het. Krieket, skaak en jukskei is by hierdie toernooi aangebied.

In 2002 het Hoëveld die voorreg gehad om die Bokkieweek te Morgenzon Landbou Akademie aan te bied. Op daardie stadium was die totale spelertal van al die unies slegs 860, maar Morgenzon was gepak met die gees van passievolle jong Afrikanerkinders.

In 2004 bars die unie uit sy nate met 176 spelers en 30 beamptes wat die toernooi te Naboomspruit meemaak. Daardie jaar wen Hoëveld se O/19 Rugbyspan die toernooi. Maar die oorwinning was bitter-soet. Tydens die finaal het Shawn Ramos, een van ons spelers, sy nek gebreek, waarná hy permanent verlam was. Shawn is intussen oorlede. Die Shawn Ramos Fonds, wat AVS gestig het om Shawn en ander soortgelyke gevalle wat by AVS se toernooie mag ontstaan, finansieel te ondersteun, word egter steeds in stand gehou.

In 2011 tree Chris Badenhorst, stigter van AVS Hoëveld, uit as President van die unie. Dolf Uys neem die leisels by hom oor en is tans steeds President van Hoëveld.

Hoëveld is tans een van die toonaangewende unies met 220 deelnemende jong sportmanne en -vroue. Ons verteenwoordiging in AVS se Nasionale Spanne is ook baie sterk.

Ons is trots om te weet dat Hoëveld ‘n unie is om mee rekenskap te hou.

Ons dank God dat Hy nog altyd sy hand van wysheid, genade en voorspoed oor AVS Hoëveld gehou het. Geloof in God Drie-Enig, dankbaarheid, eerlikheid en nederigheid is ons leuse.

Dolf Uys

President Hoëveld