Skip to main content

Bokkieweek

AVS Noord-Transvaal

AVS Noord-Transvaal is op 20 Maart 1992 gestig. Daardie jaar neem die unie, saam met ses ander provinsiale O/13 rugbyspanne, aan die eerste Bokkieweek deel.

Wouter Hoffman was uniepresident van Noord-Transvaal vanaf 1992 tot 2003. Daarná het Daan Fourie vir ‘n kort rukkie uitgehelp. Dr. Herman Booysen het vanaf 2004 tot sy skielike heengaan in 2009, as uniepresident van Noord-Transvaal gedien. Ben Vorster is daarná tot president van die unie verkies en staan tans steeds aan die stuur van sake by Noord-Transvaal.

Tydens Bokkieweek 2001 te Middelburg maak Noord-Transvaal se rugbyspanne skoonskip.

Aangesien daar so baie Afrikaners in Noord-Transvaal se geografiese gebied (Pretoria, Brits, Hartbeespoortdam, Bronkhorstspruit, Centurion, Cullinan en Rayton) woon, neem ons sedert 2007 met twee sub-unies, naamlik Noord-Transvaal Noord en Noord-Transvaal Wes, aan AVS se toernooie deel.

In 2010 bied Noord-Transvaal die eerste keer die Somerweek aan, en ons O/13 Krieket Kavalierspan wen dan ook daardie jaar die toernooi. Sedertdien het ons al verkeie kere die Somerweek in Pretoria aangebied.

Noord-Transvaal Noord maak in 2011 skoonskip op die netbalbane.

In 2016 te Kroonstad lig al vier Noord-Transvaal Wes se rugbyspanne die wennerstrofees in hul onderskeie ouderdomsgroepe.

Met die byvoeging van O/17 Snelbal as sportsoort by die Somerweek in 2016, wen Noord-Tvl Noord daardie jaar die beker, en verdedig die titel suksesvol in 2017. In 2017 word O/15 ook as ouderdomsgroep by Snelbal bygevoeg. Noord-Tvl Noord lig daardie jaar die beker, en wen ook die twee daaropvolgende jare (2018 & 2019) die O/15 Snelbaltrofee. Met O/13 Snelbal wat in 2018 bygevoeg word, lig Noord-Transvaal Noord daardie jaar die wennerstrofee, en verdedig die titel suksesvol in 2019. As gevolg van COVID19 kon die Somerweke van 2020 en 2021 nie plaasvind nie, maar ons sien uit na die volgende Somerweek, sodat ons speelsters weereens hul staal op die Snelbalbaan kan wys.

AVS Noord-Transvaal wil graag vir oom Fonnie van der Vyver bedank vir sy spontane bydrae tot die Afrikanersaak, en meer spesifiek tot AVS Noord-Transvaal. Gaan kyk gerus op Bokkieweek se webwerf by Groot geeste vir meer besonderhede oor oom Fonnie en sy bydrae tot AVS en AVS Noord-Transvaal.

Ben Vorster

President Noord-Transvaal