Skip to main content

Bokkieweek

Toere en toerbestemming

Na afloop van elke AVS toernooi word daar ‘n AVS Nasionale Span in elke ouderdomsgroep van elke sportsoort aangewys. Die senior spanne van elke toernooi toer jaarliks na die buiteland, terwyl die res van die spanne binnelands of binne suidelike Afrika toer.

Bokkieweek se eerste toer het in 1994 plaasgevind. ‘n AVS O/13 rugbyspan en AVS O/19 rugbyspan het na die destydse Suidwes-Afrika (vandag Namibië) getoer. Volg gerus die skakel om meer te lees oor ons eerste toer.

Bokkieweekspanne

Sedert 2015 onderneem die O/13 Rugby Steenbokke en O/14 Rugby Duikers elke jaar ‘n gesamentlike toer na Namibië. Die O/16 Rugby Presidentspanne het al na onder andere Mauritius, Kenia, Georgië, Armenië en Rusland getoer. In 2006 het ‘n AVS Nasionale O/15 Rugbyspan en ‘n AVS Nasionale O/17 Rugbyspan ‘n gesamentlike toer na Frankryk onderneem. AVS se O/17 Rugbybokkies het ook al na Duitsland, Rusland en Romenië getoer. Die O/19 Rugbybokkies het onder andere Engeland, Argentinië, Georgië en Rusland besoek.

Wat die netbal betref, het AVS se O/13 Steenbokkies, O/14 Duikers en O/16 Presidentspan in 2017 na die Kaap getoer. Sedert 2018 toer hierdie spanne na Namibië. Die O/19 Bokkiespanne het al in verskeie lande netbal gespeel, insluitende Brittanje, Nieu-Seeland, Maleisië, Tanzanië, Ierland, Hong Kong, Mauritius en Malta.

Die O/14 Dogtershokkie Duikers toer jaarliks na die Kaap, terwyl die O/16 Dogtershokkie Presidentspan en die O/15 Seunshokkie Presidentspan ‘n gesamentlike toer na Namibië onderneem. Die O/19 Dogtershokkie Bokkies se eerste toer was in 2007 na Nederland en die daaropvolgende jaar het hulle na Argentinië getoer. In 2007 toer die O/19 Seunshokkie Bokkies na Argentinië en in 2008 na Egipte. Sedert 2009 onderneem hierdie twee spanne jaarliks ‘n gesamentlike toer en is Brittanje, Spanje, Maleisië, Argentinië, China, Nederland, België, Italië, Oos-Europa, en Rusland al besoek.

Somerweekspanne

Die O/13 Krieket Steenbokke se paaie het al na die Suid-Kaap, Durban en Oos-Londen gelei. Die O/19 Krieketbokkies se eerste toer was in 2006 na Argentinië. Daarná het hierdie span al na Namibië, Sri Lanka, Kenia, die Seychelles, die Arabiese Emirate, Mauritius en Indië getoer.

7’s Rugby se eerste O/19 Bokkietoer was in 2009 na Frankryk. Sedert 2014 onderneem die 7’s Rugby O/14 Duikers, O/16 Presidentspanne en O/19 Bokkiespanne gesamentlike toere. Lande wat besoek is, sluit onder andere in Italië, Portugal, Mauritius, Argentinië en Spanje.

Die O/17 Snelbalbokkies toer sedert 2017 en die spanne het onderskeidelik Londen (2017), Hong Kong (2018) en Dubai (2019) besoek.

O/21 spanne

AVS se O/21 Netbal- en Rugbybokkies van 2019 maak geskiedenis en onderneem ons eerste O/21 toere.

Die Netbalbokkies toer na Dubai en neem aan ‘n Netbaltoernooi deel wat saam met die Dubai 7’s aangebied word. Hulle vorder tot in die kwarteindronde, waar hulle met slegs een punt verloor teen die uiteindelike wenners van die toernooi.

Die Rugbybokkies toer na Rusland waar hulle onder andere twee toetse teen Rusland se nasionale O/21 span speel. Die Bokkies wen beide hierdie wedstryde. Een van die toetse is lewendig uitgesaai op Russia Rugby se YouTube kanaal. Volg hierdie skakel om ons manne in aksie te sien: AVS O/21 Rugby vs Rusland O/21.

Gaan na Toerfoto’s vir enkele van die besienswaardighede wat ons spanne al besoek het en om te sien hoe die AVS Nasionale Spanne op die veld vertoon.