Bokkieweek vier 100 jaar van Afrikaans en sport
Ter viering van Afrikaans se honderdste bestaansjaar het ons teruggekyk oor die eeu, na Afrikaner sportreuse en watter bydrae hulle tot sport en Afrikaans gelewer het! As deel van die viering het ons op 9 Mei 2025 ‘n kompetisie van stapel gestuur en al ons Bokkieweekondersteuners gevra om hul gunsteling Afrikaner sportreus te nomineer en ons te vertel hoekom hy/sy as een van die Afrikaner100 reuse gekroon moet word.
Mia Johnstone kroon Bakkies Botha as haar sportreus
Die wenner van die Afrikaner sportreus-kompetisie is die dertienjarige Mia Johnstone van Middelburg, Mpumalanga en sy stap weg met ‘n Camo Soft Shell baadjie ter waarde van R660. Sy het die legendariese Springbok Bakkies Botha genomineer as haar sportreus. Volgens Mia was Bakkies nie net ’n formidabele slot nie, maar ook ’n vurige ondersteuner van sy taal. Sy harde spel in die losgemale en dominerende teenwoordigheid in lynstane het hom wêreldwyd bekend gemaak, maar dit was sy trots op Afrikaans wat hom in Mia se oë ’n ware reus maak. Sy vertel hoe hy selfs sy kapteins aangemoedig het om Afrikaans te praat. “Hy het net so hard vir sy taal opgestaan soos wat hy vir sy land op die rugbyveld opgestaan het,” sê sy.
Mia self is ’n opkomende sportster in eie reg. Sy speel vir haar skool se eerstespan hokkie en is reeds vir twee jaar ’n lid van die Mpumalanga Mambas se binnenshuise A-span. Haar liefde vir sport en stories van haar niggies se ervarings het haar geïnspireer om self deel te neem aan Bokkieweek – vanjaar saam met die Suidoos o/14-span.
Chris Jansen van Vuuren vereer Elize Kotze
In die tweede plek is Chris Jansen van Vuuren van Reddersburg, Vrystaat, wat vir Elize Kotze genomineer het. Elize was deel van die Protea-netbalspan wat in 1995 wêreldbeker-silwer gewen het, en sy het later as afrigter van die nasionale span gedien van 2011 tot 2015. Vandag dra sy die fakkel van netbal verder by haar eie sportplaas, Raloka, waar jong spelers ontwikkel word. Vir Chris is sy ’n reus – nie net op die netbalbaan nie, maar ook in die kultuurwêreld, aangesien sy ook die bekende Afrikaanse sanger, Appel, se ma is.
Chris se liefde vir sport spruit uit sy ma se betrokkenheid as netbalafrigter. Hy is self ’n passievolle netbalskeidsregter, met ’n NSA C+ gradering agter sy naam. Sy betrokkenheid by Bokkieweek is as skeidsregter vir Griekwas se o/19 netbalspan. ’n Rol waarin hy beide dissipline en liefde vir die spel uitleef. Baie geluk, Chris. Jy is die gelukkige wenner van ‘n camo pull-over ter waarde van R560.
Afrikaner sportreuse: ’n nalatenskap van trots en taal
Bokkieweek se Afrikaner sportreus-kompetisie het nie net ons sportgeskiedenis gevier nie, maar ook ’n platform gebied vir jong sportliefhebbers soos Mia en Chris om hul passie te deel en hul helde te vereer.