Skip to main content

Bokkieweek

ATKV vereer ds. Peter Stans met Afrikoon-toekenning

Vir meer as drie dekades is ds. Peter Stans deel van die leierskap van Afrikaner Volkseie Sport (AVS) en die ontwikkeling van jong sportlui. Hierdie jarelange toewyding is vanjaar tydens Bokkieweek in Naboomspruit deur die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV) erken toe hy met ‘n Afrikoon-toekenning vereer is.

Die toekenning is aan ds. Stans toegeken “vir sy uitstaande bydrae tot die bevordering van die Afrikaanse taal en kultuur, asook sy toegewyde ondersteuning van sportontwikkeling onder die jeug van Suid-Afrika.”

Die Afrikoon is die hoogste plaaslike toekenning wat ‘n ATKV-tak kan toeken en word toegeken aan persone of instansies wat ‘n besondere bydrae lewer tot die bevordering van die ATKV se visie en fokusgebiede.

Ds. Stans het in 1995 met wyle oom Daan Nolte in gesprek getree met die doel om ‘n Griekwa-unie tot stand te bring as deel van Afrikaner Volkseie Sport (AVS). Ds. Stans dien tans as die organisasie se Hoof Uitvoerende Beampte. Hy was van die vroeë jare af betrokke by die groei van AVS. Hy is die langsdienende uniepresident by AVS en Griekwas is dus die enigste unie wat sedert sy ontstaan tot op hede dieselfde uniepresident het. 

Ds. Stans het oor die afgelope 32 jaar ‘n sleutelrol gespeel in die ontwikkeling van Bokkieweek wat jaarliks duisende Afrikanerkinders bereik. 

Onder sy leiding het Bokkieweek gegroei tot ‘n gevestigde sportgeleentheid waar jong rugby-, hokkie-, netbal-, krieket- en gholfspelers regoor Suid-Afrika die geleentheid kry om hul talent te ontwikkel en op ‘n hoë standaard mee te ding. Jaarliks neem sowat 3600 spelers en beamptes aan Bokkieweek deel, terwyl Somerweek reeds tot ongeveer 1600 deelnemers gegroei het. Hy het die inisiatief geneem om ook die O/25 Bokkietoernooi te vestig, waaraan jaarliks 350 spelers en beamptes deelneem.

Ds. Stans is deur die jare onderskei as iemand wat hom onwrikbaar beywer vir die voortbestaan van die Afrikanerkultuur, terwyl hy terselfdertyd ‘n passie het vir die ontwikkeling van die jeug deur sport.

Vir ds. Stans gaan Bokkieweek egter oor veel meer as sport. Dit gaan oor die vorming van karakter, die skep van geleenthede vir jongmense en die verantwoordelikheid om in die volgende geslag te belê.

“Hierdie erkenning behoort nie aan my alleen nie, maar aan elke afrigter, beampte, vrywilliger en ondersteuner wat oor die jare saam aan Bokkieweek en AVS gebou het,” sê hy.

Die toekenning dien daarom nie net as erkenning vir sy persoonlike bydrae nie, maar ook vir die werk wat oor dekades heen binne Afrikaner Volkseie Sport verrig is om aan jong Afrikaners ‘n sporttuiste te bied waar hulle hul talente, taal en kultuur met trots kan uitleef.