Skip to main content

Bokkieweek

Positiewe terugvoer van ondersteuners bevestig Bokkieweek se besondere waarde

Die stof het skaars gaan lê ná Bokkieweek 2026, maar een ding staan reeds duidelik uit: Die oorweldigende positiewe terugvoer van spelers, ouers, ondersteuners en besoekers wat die week eerstehands beleef het.

Ná afloop van vanjaar se Bokkieweek, wat van 6 tot 10 Julie in Naboomspruit aangebied is, het talle ondersteuners hul waardering op sosiale media uitgespreek. Die boodskap wat telkens na vore kom, is een van dankbaarheid, trots en waardering vir ‘n sportweek wat vir baie Afrikanergesinne veel meer as net sport beteken.

Verskeie ouers het geskryf dat hulle beïndruk was met die organisasie, die sportmanskap en die atmosfeer wat deur die week op en van die veld af geheers het.
Elize Louw, wat Bokkieweek vanjaar vir die eerste keer bygewoon het, beskryf haar ervaring as besonder positief. “Vir so ‘n groot byeenkoms moet ek net krediet gee vir die organiseerders. Ons het so mooi rugby gekyk en ons het sommer tuis gevoel.”

Sy het ook die goeie sportmangees, opwindende wedstryde, lekker kos en die vriendelike atmosfeer geloof.

Vir Debbie Manthe lê die waarde van Bokkieweek in die manier waarop dit Afrikanerkinders en hul ouers saambring.

“Ek is so trots op elke Afrikanerkind en ouer wat die sport ondersteun het. Die kinders het soveel respek en dit maak my trots om deel van ‘n ongelooflike kultuur te wees.”
Ook Karin Visagie het haar waardering uitgespreek vir almal wat die week moontlik gemaak het.

“Dankie aan elkeen wat betrokke was dié week en dit moontlik gemaak het vir elke kind wat deel van só ‘n pragtige geleentheid was. Mag Bokkieweek nog jare deel van ons Afrikanervolk wees.”

Vir Tienie Venter was dit die spanpoging agter Bokkieweek wat uitgestaan het.

“Dankie vir elke borg, onderwyser, afrigter, ouers, oupas en oumas, en natuurlik ons jong toekoms.”

Die positiewe ervarings wat deur soveel gesinne gedeel word, bevestig opnuut waarom Bokkieweek reeds 35 jaar lank ‘n besondere plek in die harte van duisende Afrikanergesinne beklee en waarom soveel deelnemers jaar ná jaar met verwagting uitsien na die volgende Bokkieweek. Bokkieweek is ná 35 jaar inderdaad deel van die Afrikanerkultuur.