Bokkieweek kondig met opgewondenheid aan dat Somerweek vanjaar in Pretoria, in samewerking met die Oosie Bond, aangebied sal word. Die verskuiwing vorm deel van die logistieke reëlings om ’n suksesvolle en goed georganiseerde toernooi te verseker.
Die Somerweek vind van Dinsdag 29 September tot Saterdag 3 Oktober 2026 plaas. Die krieketwedstryde sal reeds van Maandag 28 September tot Vrydag 2 Oktober 2026 by Jubaweni aangebied word.
Verdere besonderhede oor die onderskeie venues en praktiese reëlings sal op ’n latere stadium bekendgemaak word.
Volgens ds. Peter Stans, Hoof Uitvoerende Beampte van Bokkieweek, bied die verskuiwing ’n nuwe geleentheid om Somerweek verder uit te bou.
“Hoewel die bestemming verander, bly die hart en doel van Somerweek onveranderd. Dit gaan steeds daaroor om aan die Afrikanerkind ’n veilige geleentheid te bied om hul sporttalente te ontwikkel, gesonde mededinging te ervaar en deel van ’n besondere Afrikaner-sportbyeenkoms te wees,” sê Stans.
Bokkieweek en die Oosie Bond werk nou saam om te verseker dat die nodige reëlings getref word en dat die toernooi aan die gehalte en standaard voldoen waaraan deelnemers, ouers en ondersteuners gewoond is.
Bokkieweek bedank alle deelnemers en ouers vir hul begrip en sien daarna uit om almal te verwelkom.