Skip to main content

Bokkieweek

AVS vier 35 jaar van Bokkieweek

Afrikaner Volkseie Sport (AVS) vier vanjaar ‘n besondere mylpaal; Bokkieweek vier sy 35ste bestaansjaar. Vanaf 6 tot 10 Julie 2026 sal Naboomspruit weer die tuiste van Suid-Afrika se grootste nasionale Afrikanersportbyeenkoms wees. Duisende spelers, beamptes en ondersteuners van regoor die land word verwag.

Altesaam word sowat 2 800 spelers, 600 beamptes en ongeveer 3 000 ondersteuners gedurende die week verwag.

Volgens ds. Peter Stans, Hoof Uitvoerende Beampte van AVS, is die 35ste bestaansjaar ‘n bewys van die waarde wat Bokkieweek steeds vir Afrikanerkinders en Afrikanergesinne inhou.

“Vyf-en-dertig jaar gelede is die grondslag gelê vir ‘n sportweek wat vandag steeds jongmense bymekaarbring om op die hoogste vlak mee te ding, nuwe vriendskappe te bou en met trots hul unies te verteenwoordig. Ons sien daarna uit om weer deelnemers en ondersteuners van regoor Suid-Afrika te verwelkom.”

Stans sê die kern van Bokkieweek het deur die jare onveranderd gebly.

“Ons boodskap bly eenvoudig: Dit bly steeds lekker om ‘n Boere-Afrikaner te wees. Bokkieweek is die plek waar ons poog om Afrikanerwaardes aan ‘n volgende geslag oor te dra. Ons is dankbaar dat soveel gesinne jaar na jaar deel daarvan bly.”

Die verrigtinge het op Maandag 6 Julie begin, met die amptelike openingseremonie, wat op die A-rugbyveld van Hoërskool Hans Strijdom plaasgevind het. 

Die optog van die deelnemende unies is deur die formele opening gevolg. Ná afloop van die gewilde kunstenaar Ruhan du Toit se optrede, het die openingswedstryd tussen Verre Noord en Hoëveld se O/19 Rugbyspanne plaasgevind.

Een van die gewildste aandverrigtinge, Mnr. & Mej. Bokkieweek, vind op Dinsdag 7 Julie in die skoolsaal van Hoërskool Hans Strijdom plaas. Deure open om 18:45 en die verrigtinge begin om 19:00. Toegang beloop R10 per persoon, met slegs kontantbetalings wat aanvaar word.

Die week word op Vrydag 10 Julie om 14:00 afgesluit met die prysuitdeling op die A-rugbyveld van Hoërskool Hans Strijdom, waartydens AVS se nasionale spanne ook aangekondig sal word.

Besoekers kan uitsien na ‘n verskeidenheid kos- en verversingstalletjies, asook AVS-aandenkings en amptelike Bokkieweek-klerasie. Daar is ruim parkering rondom die skool beskikbaar, met veiligheidswagte wat voertuie deurentyd sal oppas. ‘n Mediese dokter vorm deel van die permanente mediese span wat gedurende die week op die terrein beskikbaar sal wees.

Verskeie spelers wat verlede jaar die AVS O/19 Bokkiespanne gehaal het, keer vanjaar terug om weer hul staal te toon.

“Ons nooi almal uit om deel te wees van hierdie besondere mylpaal. Of jy langs die veld is of die wedstryde aanlyn volg, ons sien uit daarna om nog ‘n onvergeetlike Bokkieweek saam met ons deelnemers en ondersteuners te beleef,” sê Stans.