Skip to main content

Bokkieweek

Bokkieweek eer die lewe en nalatenskap van Hettie Vorster

Bokkieweek en die breër sportgemeenskap is diep geraak deur die afsterwe van Hettie Vorster op Saterdag 2 Augustus, ’n toegewyde sportleier en geliefde mentor wie se passie vir Netbal en Snelbal ’n onuitwisbare nalatenskap laat. Die Roudiens het op Vrydag 8 Augustus plaasgevind.

Hettie se betrokkenheid het in 2006-2007 begin toe sy as spanbestuurder by AVS Noord-Transvaal O/13 aangesluit het. In 2008 is sy aangestel as Netbalkoördineerder vir Noord-Transvaal en het sy met groot toewyding gewerk om die standaard van beide Noord en Wes se afrigters en spelers te verhoog. Haar harde werk het vrugte afgewerp, in 2024 het Noord-Transvaal Noord eerste geëindig en Noord-Transvaal Wes tweede by Netbal, ’n bewys van die sterk fondament wat sy gebou het.

Vanaf 2015 tot 2021 het Hettie as Snelbalkoördineerder gedien en in 2022 is sy verkies as Snelbalpresident, ’n rol wat sy tot 2025 met dieselfde toewyding vervul het.

Sy was geliefd onder meisiespelers, ouers en afrigters. Haar kollegas by Noord-Transvaal het haar “Wurm” genoem, omdat sy haarself in almal se harte ingewurm het. Baie het haar ook as “Mamma Hettie” geken, altyd sag, liefdevol en ondersteunend. Sy het nuwe afrigters bemoedig wanneer hulle onseker was, konflik met ope hart hanteer en haar spanne sonder ophou ondersteun.

“Ons het Hettie ongelooflik hoog geag,” sê ds. Peter Stans, Hoof Uitvoerende Beampte van Bokkieweek. “Haar passie, liefde vir die spelers en opregte betrokkenheid het nie net die sport versterk nie, maar ook lewens verander. Haar nalatenskap sal voortleef in die harte van almal wat sy geraak het.”

Hettie laat ’n groot leemte, maar ook ’n ryke nalatenskap van liefde, omgee en sportgeesdrif. Haar passie sal in die sportgemeenskap bly voortleef, en sy sal altyd onthou word as iemand wat aan elke kind geglo het.