Skip to main content

Bokkieweek

Stellaland se O/19 hokkiespan by Bokkieweek 2026

Derde jaar as kaptein: Rize Geldenhuys lei Stellaland se hokkiedogters by Bokkieweek

Die 17-jarige Rize Geldenhuys van Lichtenburg is vanjaar vir die derde agtereenvolgende jaar die kaptein van Stellaland se o/19-hokkiedogterspan tydens Bokkieweek, wat van 6 tot 10 Julie in Naboomspruit plaasgevind het.

Vir Rize is dit ‘n besondere voorreg om reeds drie jaar lank haar span as kaptein te lei. Sy was selfs in haar eerste jaar die jongste speler in die span wat dié verantwoordelikheid ontvang het.

“Dit beteken ongelooflik baie vir my dat my afrigters en spanmaats my vertrou om hierdie rol te vervul,” vertel sy.

Volgens haar gaan ware leierskap nie daaroor om voor te loop of die belangrikste persoon op die veld te wees nie.

“Vir my gaan dit daaroor om my spanmaats beter te maak. Ek probeer hulle ondersteun deur rustig te bly wanneer iemand ‘n fout maak en hulle te herinner dat almal foute maak. Dit help ons om weer op die volgende oomblik te fokus.”

Hoewel sy ook ‘n groot liefde vir netbal het, moes sy uiteindelik tussen die twee sportsoorte kies.

“Dit was ‘n moeilike besluit, maar hokkie was nog altyd net ‘n bietjie nader aan my hart as netbal!”

Aan jong spelers wat daarvan droom om eendag Bokkieweek te haal, het sy ‘n eenvoudige boodskap: “Doen dit beslis. Almal het talente. Selfs al voel jy jy is nog nie goed genoeg nie, hou aan werk. Jy sal beter word.”

Rize sê sy sal sonder twyfel weer volgende jaar aan Bokkieweek wil deelneem indien sy die geleentheid kry.

Sy sluit af met ‘n spesiale woord van dank aan haar grootste ondersteuner.

“Ek kry nie ‘n beter cheerleader as my ma nie. Sy bly nooit stil langs die veld nie en sy bou nie net vir my op nie, maar ons hele span.”