Hemelvaart herinner ons aan ’n eenvoudige, maar kragtige waarheid: Christus regeer.
Veertig dae ná sy opstanding het Jesus na die hemel opgevaar, waar Hy aan die regterhand van God sit. Dit is nie net ’n historiese gebeurtenis nie; dit is die bevestiging dat Hy Koning is, en dat alles onder sy heerskappy staan.
Vir ons as Afrikaner Volkseie Sport (AVS), en vir elke jong speler wat deel vorm van Bokkieweek, gee hierdie waarheid rigting in ’n tyd waar baie dinge onseker voel.
Ons jeug leef in ’n wêreld vol druk: Druk om te presteer; om raakgesien te word; om hul plek te vind. Sport is dikwels een van die ruimtes waar hierdie druk sterk beleef word. Maar dit is ook juis daar waar belangrike lewenslesse geleer word.
By AVS sien ons sport as meer as net deelname of prestasie. Dit is ’n plek waar jongmense leer van dissipline, verantwoordelikheid en respek, nie net vir hul spanmaats nie, maar ook vir hul teenstanders en hulself. Dit is waar hulle leer om te wen met nederigheid en te verloor met waardigheid.
Hemelvaart herinner ons dat ons nie op onsself aangewese is nie. Christus se heerskappy beteken dat daar orde en ‘n doel is, ook in die klein dinge van elke dag. Dit beteken dat ons talente nie toevallig is nie, maar gawes wat met ’n doel deur ons Hemelse Vader aan ons geskenk is.
Dit plaas ’n verantwoordelikheid, ook op ons jeug, om hierdie gawes reg te gebruik. Die jeug moet hulself dissiplineer, hard werk en met integriteit optree, beide op en van die veld of baan.
Ons glo dat karakter belangriker is as enige telbord. Die manier waarop ’n speler hom- of haarself gedra, sê uiteindelik meer as die uitslag van ’n wedstryd.
Hemelvaart is daarom vir ons nie net ’n dag van onthou nie. Dit is in besonder ’n dag om te herbesin. Hemelvaart roep ons terug na dit wat werklik saak maak: Geloof, waardes en die manier waarop ons ons waardes uitleef.
Mag hierdie Hemelvaart vir elke speler, ouer en ondersteuner ’n herinnering wees dat ons met ‘n doel leef, en met hoop vorentoe kyk.
Ons lewe op vaste grond, want:
CHRISTUS REGEER!