Vir JC Menezies van Potchefstroom was Bokkieweek 2026 ‘n week vol rugby, nuwe vriendskappe en waardevolle ervaringe. Die Graad 11-leerder het dié geleentheid gebruik om homself teen ander jong spelers te meet en sy liefde vir die spel verder uit te leef.
JC se week het ‘n spesiale hoogtepunt bereik toe hy as Speler van die Wedstryd aangewys is; iets wat hom nogal verras het.
“Ek was baie verbaas, want ek het persoonlik gevoel dat ek nie so goed gespeel het nie,” vertel hy.
Die toekenning het hom verder gemotiveer om aan te hou werk om die doelwitte wat hy vir homself gestel het, te bereik.
“Dit het baie vir my beteken, want dit was die begin van die week en ek het ‘n groot doel gehad wat ek wou bereik. Dit het my net meer moed gegee dat ek dit kan bereik.”
Volgens JC was die hele Bokkieweek-ervaring besonders, veral vanweë die span waarin hy gespeel het.
“Ons was ‘n baie lekker groep seuns. Die week was vol grappies, maar rugby het steeds ons groot fokus gebly.”
“Ek het daarvan gehou dat ons elkeen ‘n regverdige kans kry om onsself op die veld te bewys. Die week se rugby het almal van ons getoets en ons kon saam leer en groei. Van die veld af was die beste die vriendskappe wat ons kon bou en die nuwe mense wat ons kon ontmoet.”
JC sê hy is dankbaar vir die mense wat hom op sy rugbypad ondersteun, veral sy grootouers.
“My ouma en my oupa leef saam met my droom vandat ek bulletjierugby gespeel het. Hulle is elke wedstryd daar en huiwer nooit as ek hulp nodig het nie.”
Hy bedank ook sy afrigters en die mense wat hom gehelp het om deel van Bokkieweek te wees.
Aan ander jong rugbyspelers wat ook hul drome wil bereik, het JC dié raad: “Obsession beats passion. Jy moet altyd beter wil wees en bereid wees om te leer. Speel jou hart uit en omring jou met mense wat dieselfde doel as jy het.”