Skip to main content

Bokkieweek

’n Nuwe jaar, ’n nuwe seisoen van groei vir AVS

Met die aanbreek van 2026 staan Afrikaner Volkseie Sport (AVS) op die drumpel van nog ’n betekenisvolle sportjaar vir die Afrikanerjeug en die tradisies wat AVS al vir dekades koester. Die beplanning vir die jaar is reeds sedert 2025 in volle swang. Dit is ’n proses wat met toewyding, geloof en praktiese samewerking aangepak word. Sodoende word seker gemaak dat elke toernooi, elke week en elke wen weer opnuut die AVS-stempel van gehalte dra.

AVS se Algemene Jaarvergadering vir 2026 het op 9 en 10 Januarie plaasgevind. Die Hoofbestuur het reeds op 8 Januarie byeengekom vir ‘n kort spanbou-aksie, braai en saamkuier die aand. Ds. Peter Stans, Hoof Uitvoerende Beampte van AVS, beklemtoon dat 2026 nie net ’n voortsetting van vorige jare se werk is nie, maar ’n boujaar. “Elke seisoen gee vir ons ’n nuwe geleentheid om ons kinders se potensiaal te voed, ons sportstrukture te versterk en die waardes van Afrikanersport uit te leef. Ons benader 2026 met fokus en met ’n diep dankbaarheid vir die Afrikanervolk wat AVS dra,” sê ds. Stans.

Die AJV het verskeie belangrike besluite bevestig en geneem:

  • Die vergadering het die besluit dat Bokkietoernooi vanaf 2026 ‘n O/25 toernooi word, bevestig. Bokkietoernooi vind, soos sedert sy ontstaan in 2016, weer te Orania plaas en wel vanaf 3 tot 6 April. Daar sal nie op Christelike dae wedstryde wees nie.
  • O/25 Bokkietoernooi skuif in 2026 vanaf die dorpsgronde na die sportterrein van Orania CVO-skool. Die skool het indrukwekkende nuwe sportgeriewe ontwikkel en Bokkieweek sal bevoorreg wees om die eerste wedstryde op die Rugbyveld te speel.
  • Die jarelange Beskermheer van AVS, oom Wessel Beneke, het sy uittrede as Beskermheer aangekondig. Die AJV het mnr. Bennie Genis, oud-president van AVS Verre Noord, as die nuwe Beskermheer aangewys. Ons vertrou dat sy wyse insigte steeds AVS tot diens sal wees.
  • Die vergadering het herbevestig dat daar nie lootjies verkoop mag word vir fondsinsamelingsaksies in enige van die unies of nasionaal nie. Volgens die beginselgrondslag waarbinne AVS funksioneer, kan dobbel nooit deel vorm van fondsinsamelings nie.
  • Die vergadering het ook besluit om die tender van Ultra Photo, wat ‘n hele nuwe aanslag aanneem, te aanvaar. Die deelnemers aan Bokkieweek gaan ‘n baie groot voordeel hê met die nuwe tender wat aanvaar is.
  • Die vergadering het ook kennis geneem dat Ruhan du Toit as sanger sal optree tydens die opening van Bokkieweek 2026 te Naboomspruit.
  • Vanjaar is AVS se 35ste bestaansjaar. Daar is reeds begin met beplanning om die feesjaar besonders en opwindend te maak.

Bokkieweek 2026 beloof om een van die hoogtepunte te wees, met nuwe ontwikkelings, sterk deelname en uitbreiding van fasiliteite. Daar word vroeg in die jaar reeds proewe gehou om die beste spelers vir die onderskeie sportspanne saam te stel. Benewens die toernooie, fokus AVS verder op die versterking van Woemahokkie, die verfyning van beeldsending tydens Bokkieweek en die ondersteuning van unie-uitbreiding. Sodoende poog AVS om meer jong Afrikaners die geleentheid te gee om hul sporttalent binne ’n waardegedrewe raamwerk te ontwikkel.

“Ons kinders verdien die beste sportontwikkeling, nie net om hulle prestasies te verbeter nie, maar om hulle as mense te vorm,” voeg ds. Stans by. “Wanneer ons saamwerk, wanneer Afrikanergemeenskappe inskakel, en wanneer ons trots ons waardes uitleef, skep ons ’n sporttoekoms waarin elke jong speler kan groei.”

Met die visie gefokus en die planne op die tafel, begin 2026 met energie en afwagting. AVS sien daarna uit om saam met ouers, afrigters, spelers en ondersteuners hierdie jaar se reis aan te pak. Ons doen dit stap vir stap, op die gebaande weë wat al soveel generasies gevorm het.