Bokkieweek se gewilde Somerweek vind vanjaar van 7 tot 11 Oktober weer in die Vaaldriehoek plaas. Sportliefhebbers van regoor die land sal in Meyerton saamkom vir dié jaarlikse hoogtepunt op die sportkalender.
Die Somerweek bied ’n wye verskeidenheid sportsoorte om na uit te sien, naamlik 7’s-rugby, T20-krieket, Snelbal (fast five netball), Gholf en Woemahokkie (six-a-side hockey).
Die toernooi se opening vind op Dinsdag 7 Oktober om 17:00 plaas. Net na die opening vind die eerste wedstryde in 7’s-rugby plaas. Hiermee word ‘n week vol hoofsaaklik vinnige sportsoorte afgeskop vir ’n week van aksie. Spanne gaan mekaar reg deur die week die stryd aansê.
“Dit is vir ons ’n groot voorreg om weer in die Vaaldriehoek by die Vaalrivier te speel. Die lente se liggroen met die bot van allerlei plante is ook langs die Vaalrivier sigbaar en dit is pragtig en lewendig,” sê ds. Stans.
Die finale vind op Saterdag 11 Oktober plaas, wanneer die top spanne mekaar in die semi-finale en eindstryde pak. Al die spanne neem op Saterdag deel om hul finale plek op die rangorde te bepaal. Ná afloop van die wedstryde word die AVS Nasionale Spanne tydens die prysuitdeling aangekondig.
Volgens ds. Stans is Somerweek nie net ’n sporttoernooi nie, maar ook ’n kultuurbelewenis: “Tydens hierdie week kom sporttalente van regoor die land bymekaar om hulle liefde vir sport vol vreugde en sonder spanning uit te leef. Dit is inspirerend om dit saam te beleef.”
Bokkieweek nooi die media en die publiek uit om Somerweek 2025 by te woon.